Afrikaans Plus – Opstelle – Essays

Afrikaans Plus – Opstelle – Essays

Voorbeeld van ‘n beskrywende opstel

My ouma

Hier staan my ouma, haar bleek gesig vol rimpels van haar lang lewe.

Elke plooi is ’n storie:

’n grinnik saam met haar pa as hulle plas in die saffier-see,

’n laaste roep voor die familiehond uitgesit moes word,

die geheime glimlag vir haar enigste geliefde.

Haar smaraggroen oë hou nog die trane van die dag toe sy haar dogter verloor het toe sy maar net ses jaar oud was. Maar hulle hou ook die trotse trane vir haar enigste seun op sy eerste dag op universiteit.

As ek na my ouma kyk terwyl sy by my oupa se hospitaalbed staan, onthou ek die ontelbare kere wat hulle in die tuin gesit het, my oupa se hand liggies op my ouma s’n. Stilweg deel hulle mekaar se gedagtes soos net ’n ou paartjie wat vyftig jaar getroud is, dit kan doen. Hulle het altyd gesê dat jy elke dag tyd met die mense wat jy lief het, moet spandeer sodat as hulle gaan, die herinneringe in jou hart bly en daarmee saam ook die persoon.

Dis wat ek sien in my ouma se treurige glimlag die dag toe sy vir die laaste keer my oupa se koue hand vasgehou het. Dis ook wat ek onthou as ek aan my oupa dink.

As jy die betekenis van die lewe wil uitvind, kyk na ’n kind, maar as jy die gereedskap wil hê om te lewe, luister na ’n grootouer.

 Katharine Moore, Gr. 12 EAT Cape Town Studies

Voorbeeld van ‘n beskrywende/bespiegelende opstel

Deur my venster sien ek …

Deur my venster sien en hoor ek ’n simfonie. Misdaad, armoede, hartseer en verlore drome. Drome wat stukkend op die Kaapse Vlakte lê. Ek sien ’n gemeenskap met ’n desperate pleidooi om hulp. Maar, te midde van die seer, as die venster soms toe is, sien ek my spieëlbeeld in die glas en sien ek nogtans hoop en ‘n visie van hoe anders die lewe kán wees.

Die lewe is ingewikkeld. Hoekom is dit dat sommige mense luukse lewens lei, terwyl ander sukkel om te oorleef? Die antwoord is eenvoudig: Geld.

Partykeer wonder ek hoekom ons lewe op die manier waarop ons lewe, met soveel reëls, verpligtinge, probleme en vrese. Mense het die natuurlike instink om mekaar te kul en ek dink dit is ons grootste ondergang.

Sommige mense lewe uitbundige, losbandige lewens en geniet en gebruik al die hulpbronne wat God vir ons op aarde geplaas het. Dit is onregverdig dat net diegene met die geld, dié wat gulsig genoeg is om dit uit te buit, dit kan geniet

Deur my venster sien ek raaisels en vrae.

Vrae wat mense te bang is om te vra. Vrae met eenvoudige antwoorde oor die ware aard van dinge en probleme. Die waarheid is dat die mense met rykdom hierdie wêreld regeer en oorheers en dit is hartseer om te sien hoe hulle dit ook vernietig.

Maar dan is daar ook diegene van ons wat in misdaad verval weens omstandighede en wat dan ook help met die vernietiging van die wêreld. Ek wonder hoe hierdie wêreld sou gewees het as alle mense hul rykdom met ander gedeel het.

Ek is net ’n gewone ou, iemand met baie onbeantwoorde vrae.  Ek wonder oor dinge wat ander mense blykbaar net aanvaar.

Ongelukkig kan ek nie eeue van verkeerde lewenstyl verander nie; ek moet maar daarby aanpas sover ek kan.

Ek pas nie aan deur tyd te mors deur net deur die venster te staar nie, maar deur ’n poging aan te wend om te fokus op my eie weerkaatsing in die venster. Al is ek nie die slimste of die rykste of die aantreklikste persoon nie, as ek na myself kyk, voel ek positief. En optimisties.

Dit is onmoontlik om alles om jou te verander, maar dit is makliker om jou uitkyk op die lewe te omskep in ’n positiewe siening. Ons moet sorg dat ons nie ons lewe lank deur dieselfde venster na die dieselfde omgewing kyk nie.

 Valentino Blanckenberg,  Gr. 12 EAT Elsiesrivier

Beskikbaar by www.lapa.co.za | 012 401 0700.