Wat bied ons?

LAPA Uitgewers se skolespan wil graag onderwysers, ouers en leerders se kameraad in die klaskamer wees.

 

As u enige navrae het oor enige van ondergenoemde of inligting oor boeke vir skole, kontak:

Marieta Nel – mnel@lapa.co.za (0845111931)

Ena Stegmann – enas@lapa.co.za

Karen Janse van Rensburg – karenj@lapa.co.za

Kathie Viljoen – kathiev@lapa.co.za

 

As jy boeke vir jou kinders wil bestel, besoek www.lapa.co.za.

 

Moeg gesoek na die perfekte boek?
Daar word gesê dat vandag se kinders nie meer lees nie. Dis egter ’n mite: stel hulle aan die regte boeke bekend en ALLE kinders raak opgewonde oor lees.
LAPA se kinder- en jeugboekboeke weerspieël hedendaagse kinders se leefwêreld en word landwyd met groot sukses as voorgeskrewe boeke en bykomende leesmateriaal by skole gebruik.
Ons kundige uitgewers en skolespan (wat self Afrikaansonderwysers was en die skrywers van vele taalhandboeke en letterkundegidse) staan gereed met nommerpas-raad oor hoe om die perfekte boeke vir klaskamergebruik (Huistaal, Eerste Addisionele Taal of Tweede Addisionele Taal) en lekkerlees te kies. Daar is ook onderwysgidse (die meeste gratis) vir sommige van ons gewildste publikasies beskikbaar.
As jy ’n bibliotekaris is wat wil uitvind watter opwindende nuwe kinder- en jeugboeke onlangs by ons verskyn het, of wil weet watter titels jong lesers hul lippe laat aflek, is jy ook baie welkom om met ons verbinding te tree. Ons stuur ’n agent of lid van ons skolespan om ons nuutste boeke vir jou te kom wys.
Ons het ook ’n Skolekatalogus wat op navraag gratis aan u skool verskaf kan word. Hierin is daar nie net ’n indeling van al ons boeke vir die onderskeie grade en vlakke nie, maar ook inligting oor ons KABV-boeke in die Nasionale Onderwyskatalogus, e-boeke en waardevolle raad oor bv. Biblioterapie.

Die Afrikaansonderwyser se regterhand in die klaskamer
Die Klasgids is al 50 jaar lank die Afrikaansonderwyser se regterhand in die klaskamer en verskyn kwartaalliks. Vroeër was daar net ’n Klasgids vir die Hoërskool, maar tans is daar ook een vir die Laerskool.
Hoërskole koop gewoonlik een vir elke lid van die vakspan en die skoolbiblioteek en laerskole onderskeidelik een vir die Grondslag-, Intermediêre – en Seniorfase en een vir die biblioteek.
In elke Klasgids is daar vraestelle, werkvelle en bydraes oor taal, letterkunde, mondeling, skriftelike stelwerk en woordeboeke – geskryf deur van die toponderwysers in die land en ander kundiges.

’n Skrywer by jou skool en/of ’n uitstalling van ons boeke!
Wil jy een van LAPA se gewilde skrywers bespreek om by jou skool te kom optree? Stuur dan ’n e-pos om navraag te doen oor die moontlikheid van ’n skolebesoek in jou omgewing.
’n Skrywerspraatjie duur gewoonlik 30 minute en kan ’n praatjie met die hele skool of ’n groep leerders insluit. Skrywerspraatjies vind gewoonlik by Afrikaanse laerskole plaas, maar dit kan net so goed werk by hoërskole (waar ons skrywers oor hul jeugboeke praat) of by Engelse skole.
Ons kinder- en jeugboekskrywers is ywerig om ’n liefde vir lees en stories te bevorder en hul skolepraatjies is groot pret! Leerders maak kennis met van die nuutste boeke in Afrikaans, vind meer uit oor die opwindende lewe van ’n skrywer, hoe die skryfproses werk en natuurlik oor die fantastiese stories wat tussen die blaaie van ’n boek skuil! Ouers, onderwysers en bibliotekarisse is dikwels ná die tyd verstom om te sien hoe opgewonde kinders oor lees en boeke is nadat hulle hul gunsteling-skrywer in lewende lywe ontmoet het en kennis gemaak het met die splinternuwe Afrikaanse boeke wat tans op die mark is!
Ná afloop van die aanbieding word pamflette uitgedeel waarop die boeke se titels en verkoopprys aangedui word. Die dag ná die aanbieding besoek ’n LAPA-agent die skool met ’n uitstalling, waartydens boeke te koop aangebied word.  EN DIE GROOT BONUS IS DAT DIE SKOOL 10% VAN DIE VERKOPE IN DIE VORM VAN BOEKE ONTVANG.
Skrywersbesoeke word gewoonlik kosteloos gedoen, op voorwaarde dat boeke agterna by die skool verkoop mag word. Bespreek asseblief vroegtydig, want ons skrywers se program is baie vol!
Skrywers wat graag by skole kom praat, is Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Carina Diedericks-Hugo, Christien Neser, Wendy Maartens, Eldridge Jason, Theresa van Baalen, Anzil Kulsen en Nanette van Rooyen.

’n Fondsinsamelingsprojek wat entoesiastiese boekwurms kweek? Voorwaar ’n wen-wen-situasie!
Graag wil ons u bekend stel aan ’n unieke fondsinsamelingsprojek wat nie net sake vol geld vir u skool gaan maak nie, maar terselfdertyd die hele skoolgemeenskap – leerders, onderwysers, familie en vriende – laat lees.
Die projek behels die verkope van LAPA-boeke (hoofsaaklik Afrikaans) waarvan 40% van die inkomste aan die skool gaan.
En terselfdertyd is daar ’n leesveldtog wat ’n groot inspuiting vir geletterdheidsvlakke gaan wees.
By LAPA ken ons ons storie en van ons kant af sal ons help waar ons kan om u by te staan met hierdie wenprojek. Skryf in en gee u leerders vlerke met boeke – en die skoolfonds ’n stewige hupstoot.

Huur ’n Babalela-kostuum!
Maak ’n spesiale geleentheid ekstra-spesiaal met een van die gewildste kinderboekkarakters in Afrikaans – Babalela! LAPA het twee pragtige Babalela-kostuums beskikbaar vir Babalela-geleenthede by boekwinkels, biblioteke, skole en by gemeenskapsaktiwiteite. Die kostuum is ongelukkig nie beskikbaar vir private partytjies, byvoorbeeld verjaardae, nie. Stuur asseblief ’n e-pos na enas@lapa.co.za om die kostuum te huur.

Word deel van die ATKV se boekprojekte
Is jou kind ’n boekwurm? Of is jy ’n ouer, onderwyser of bibliotekaris wat kinders graag bekend wil stel aan die nuutste Afrikaanse kinder- en jeugboeke? Neem dan deel aan die ATKV se opwindende Leesprojek vir graadsesse en –sewes, of laat jou kind of klas of leesgroep beoordelaars vir die ATKV-kinderboektoekenning word! Daar is boonop fantastiese pryse op die spel. Die volledige lys boeke vir albei projekte kan direk by LAPA Uitgewers aangekoop word.

* Vir meer inligting oor die ATKV-kinderboektoekennings besoek hier

* Vir meer inligting oor die ATKV se jaarlikse Leesprojek besoek hier

Is jy ’n skoleboekhandelaar?
Verkoop jy boeke aan skole? Kontak ons om jou by te staan met inligting oor die regte boek of vir jou ons gratis kopieë van ons Skolekatalogus te gee wat jy by skole kan gaan wys.

Wil jy ’n ekstra inkomste uit jou passie vir boeke gegenereer?
Kontak ons om as ’n LAPA-agent te registreer en ons boeke by skole-uitstallings en aan skoolbiblioteke te gaan verkoop.