Afrikaans Plus – Dekbrief (CV) – Cover letter (CV)
Voorbeeld van ‘n dekbrief:
Kiewietstraat 43
Kuruwater
8023
12 September 2019
Die Personeelbestuurder
Bestgrow
Posbus 44
George
6529
Geagte mnr. Jansen
AANSOEK OM BETREKKING: PROJEKBESTUURDER SKOLE-ENTREPRENEURS
Ek doen graag aansoek om bogenoemde betrekking soos op die webblad Recruit.net geadverteer. Ek glo dat my ondervinding en kwalifikasie aan al die vereistes vir die posisie voldoen.
Ek is tans in my finale jaar en het, soos u vanuit my CV kan aflei, ’n passie vir ons land se jongmense. Met my betrokkenheid by Oranjezicht Stadstuin, het ek besef dat daar ’n geweldige behoefte is aan die bewusmaking van hoe om die natuurlike hulpbronne rondom jou te gebruik en te ontwikkel. Met my grootwordjare op ’n plaas en betrokkenheid by Agrimark se groentetuinontwikkeling en -bewusmaking in die gemeenskap, rus dit my toe met ’n verstaan van hoe ’n gemeenskap dink en hoe om mense betrokke te kry.
Die projekte wat BESTGROW tans aan die gemeenskap in George bied, loop parallel aan die projekte waarby ek in my internskap by Overberg Ontwikkeling en Ondersteuning betrokke was. Met my betrokkenheid by die Junior Stadsraad van Kaapstad is ek blootgestel aan hoe kinders dink en waartoe hulle in staat is en juis daarom glo ek dat dit my bevoeg maak vir die posisie waarvoor ek aansoek doen.
Dit maak my opgewonde om te dink dat ek aan die voortou kan wees om jongmense op te lei in ’n nuwe en opwindende denkrigting, om hulle bewus te maak van nuwe werksmoontlikhede sowel as die bewaring van die natuur en om sodoende deel te wees van ’n nuwe generasie.
Kontak my gerus by 076 806 1012 of kevin.b@mailme.com sodat ons my aansoek in meer diepte kan bespreek.
Die uwe
K Booysen
Kevin Booysen
