Afrikaans Plus – Brief aan die pers – Letter to the press

Afrikaans Plus – Brief aan die pers – Letter to the press

Voorbeeld van ‘n brief aan die pers

 

Die Redakteur

Huisgenoot

Posbus 1802

Kaapstad

8000

 

Geagte Redakteur

 

Selfoon-selfsug

Liefdevolle Ouer (Huisgenoot , 14 Februarie 2019) sê wanneer haar seuns kom kuier, moet almal hul selfone op die boekrak neersit sodat hulle ‘n “hond uit die bos” kan gesels. Ek dink sy het nou ‘n “klip in die bos gegooi”, want baie mense kan eenvoudig nie ‘n uur of twee sonder hul selfone oorleef nie.

By my skool sit die leerders pouses langs mekaar op die bankies, maar niemand kyk eers op of gesels nie. Die enigste geluid is ‘n gilletjie van blydskap wanneer ‘n duim die regte knoppie van ‘n speletjie druk. Maar terug in die klaskamer wil hulle skielik gesels en dan vlieg die boodskappe heen-en-weer solank Juffrou dit nie raaksien nie.

Nie net kinders ly egter aan selfoon-selfsug nie. Verlede naweek het ek en my ouers in ‘n winkelsentrum gaan ontbyt eet. By die tafel langsaan was ‘n pa en ‘n klein seuntjie. Die arme kind het hard probeer om sy pa se aandag te trek, maar dié se oë was op sy selfoonskerm vasgenael. Sy frons het gewys hy was met ernstige sake besig, maar wat moet ‘n driejarige knapie intussen doen? Natuurlik het hy stout geraak … en toe hy die melkbeker omstamp en ‘n paar druppels op die selfoon beland, het hy sy pa se volle aandag gekry. My ma moes my keer om nie iets te sê toe die pa die arme kind se handjie slaan nie.

Hoewel ek dus met Liefdevolle Ouer saamstem, glo ek die selfoon-selfsug begin by ons rolmodelle. U kan gerus ‘n artikel oor selfoon-etiket publiseer.

 

Selfoonslaaf

 

Japie Koen

Vygie Laan 112

Wonderkruin

Kaapstad

8001

20 Augustus 2018

 

 

Beskikbaar by www.lapa.co.za | 012 401 0700.

7 422 view